Description
Die grootheid van God loop soos ‘n goue draad deur die Bybel. Die Bybel leer ons dat God die Vader, Sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees , drie is, maar tog ook Een (1 Joh.5:7).
Male sonder tal lees ons in die Bybel hoe Jesus tydens Sy kort aardse bestaan mense genees het, duiwels uitgedryf het, melaatses gereinig het en dooies uit die dood opgewek het. Dan praat ek nie eens van hoe God die Vader bloot net deur te spreek, die aarde en die uitspansel en alles wat daarmee saamgaan, geskape het. Kan ons as mens onsself indink hoe dit moontlik is dat Iemand (met respek gesê) die mens kon skep bloot net deur stof te neem en in die neus van die mens Sy asem van die lewe te blaas. Al voormelde getuig van ‘n grootheid wat die menslike denke by verre oorskrei.
Die lys is te lank, maar ons Koning se vergifnis van ons sondes, gaan die mens se verstand ver te bowe. Om vir die mens se sondes gekruisig te word, nieteenstaande dat Hy volkome sonder sonde was, is en vir altyd sal wees, laat ‘n mens in verwondering staan oor Sy grootheid.
Die God Drie-Eenheid wat ons aanbid, kan nie in menslike denke bedink of vasgevat word nie. Wat ‘n voorreg om so ‘n Koning in ons lewens te kan hê en te aanbid, welwetende dat as Hy vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy is inderdaad die antwoord op ALLES – soos duidelik blyk vanuit die inhoud van hierdie boek! Daarom aanbid ons Hom nie vir wat Hy vir ons doen nie, maar vir wie Hy is.


