Description
Baie mense wil nie oor die Satan of van die Satan praat nie, want dan gee ons mos eer en erkenning aan hom. Aan die anderkant wil ons nie na hom verwys nie, want dan word hy weer agter elke bos gesoek. Ongeag enige menslike siening, bly dit ‘n groot Bybelse waarheid dat hy, die Satan (en sy demone), inderdaad bestaan en ‘n groot werklikheid is.
Dit is ‘n illusie om te dink dat Satan en sy demone, bloot boepens wesentjies is wat kragteloos is. Dit mag jou dalk ontnugter dat hulle NIE pateties en onbeholpe is nie, maar inteendeel baie kragtig. Ons geveg teen die Bose vind plaas in die geestelike realm en is in menige gevalle uitputtend. Satan (en sy demone) sal meer as sy bes probeer om die mensdom te vernietig – veral elke geredde kind van die Allerhoogste.
Ten einde sinvolle en effektiewe Geestelike oorlogvoering teen die Bose te beoefen, behoef ons as mens ‘n deurdagte kennis van Satan en sy demone te hê. Ontkenning van die bestaan van Satan (en sy demone) en dan in die besonder gebrekkige kennis van ons teenstander, gaan tot gevolg hê dat ons as mens op geestelike vlak gaan sukkel om te oorwin – in die besonder dan ook ons geveg teen die Satan (en sy demone).
Die Bybel is baie direk en duidelik oor hierdie onderwerp. Ons kan dit maar net gaan lees soos wat dit aldaar opgeteken staan.


